Buikpotiges

Buikpotiges
Tydperk: Kambrium – hede, 515–0 m. jaar gelede
[1]
Die Helix pomatia
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Mollusca
Klas: Gastropoda
Cuvier, 1795[2]
Subklasse
Diversiteit[3][4]
65,000 tot 80,000 spesies
Sinonieme[5]
  • Angiogastropoda - verteenwoordig as Gastropoda
  • Apogastropoda - alternatiewe voorstelling van Gastropoda
  • Psilogastropoda - verteenwoordig as Gastropoda

Buikpotiges (Gastropoda) is 'n klas diere wat aan die filum van weekdiere (Mollusca) behoort. Dit is die grootste klas in dié orde. Twee derdes van die spesies word in mariene omgewings aangetref, maar sommige word ook in varswater en op land aangetref. Buikpotiges kan in twee groepe verdeel word: slakke en naakslakke. Slakke het 'n dop terwyl naakslakke 'n klein dop of 'n interne dop het. Die meeste slakke het 'n duidelike kop waar die en sensor tentakels is. Die kop vloei in die lyf in wat 'n voet het aan die onderkant. Hulle vreet plante en diere, lewend of dood met 'n raspertong wat bekend staan as 'n radula. By party spesies verskil die geslagte terwyl ander hermafrodities is. Almal lê eiers waaruit larwes uitbroei.

Die opvallendste kenmerk van slakke (klas Gastropoda) is die asimmetriese bou van hul liggame. Die slakliggaam se inwendige bou is baie afwykend in vergelyking met die van ander weekdiere, omdat die mantel en die ander nabygeleë organe na vore (in die rigting van die kop) gedraai is. Die verdraaiing of torsie is kenmerkend vir slakke en 'n gevolg daarvan is dat al die gepaarde organe 'n modifikasie ondergaan het.

By sommige gepaarde orgaanstelsels is een van 'n paar of gereduseer, of heeltemal verlore. Die mate van torsie kan in uiterste gevalle tot 180° wees, hoewel 'n mate van ontdraaiing of detorsie in sommige gevalle plaasgevind het. Die asimmetriese liggaamsbou kan ook uitwendig aan die huisslak se skulp gesien word. Die skulp is 'n eensydig kegelvormige struktuur wat in naakslakke of gereduseer, of heeltemal afwesig is.

Die skulpe het 'n wye verskeidenheid vorme, groottes en strukture en dit kan wissel van spiraalbuise tot tweekleppige skulpe soos die wat die familie Juliidae het. Dit is soortgelyk aan die skulpe wat by slakke van die klas Bivalvia aangetref word. Die rangskikking van die skulp se windinge kan ook wissel: sommige kan wyd wees, terwyl ander nou is.

Daar kom ook dikwels 'n oop, hol ruimte voor, wat kegelvormig uitgehol, deurboor of spleetvormig kan wees. Die ruimte (wat aan die bokant van die skulp voorkom) vorm saam met 'n sentrale skulpdeel die spil van die skulp (die kolumella). Die opening waardeur die slak se kop na buite gesteek word, is die mond (apertura). Die terminale punt van die skulp word die apeks genoem. Wanneer die slakke hulle in hul skulpe teruggetrek het, kan sommige spesies die mondopening met 'n deksel (operkulum) van keratien of kalk bedek.

Landslakke gebruik 'n tydelike struktuur, die epifragma, vir dieselfde doel wanneer hulle oorwinter. Die deksel gaan na die winter verlore. Slakke se skulpe groei wanneer nuwe materiaal deur die mantel ('n membraan wat die grootste gedeelte van die liggaam bedek) bygevoeg word. Die materiaal by die slak se mond is dus die nuutste toevoeging en dit word stelselmatig ouer namate die skulp se draaiinge kleiner word.

Die apeks is die oudste deel van 'n skulp en dit word reeds gevorm wanneer die slak nog maar 'n larwe is. Indien daar van bo die apeks na die skulp afgekyk word en die skulpwindings kloksgewys gedraai is, is die skulp regsgewind. Indien die windings antikloksgewys is, is die skulp linksgewind. Die meeste slakke se skulpe is regsgewind, maar die van enkele families is linksgewind.

Albei vorme kan in sommige families voorkom. In ander gevalle kan 'n skulp wat linksgewind is, as 'n genetiese afwyking in spesies met regsgewinde skulpe voorkom. Die kleur, kleurpatrone, tekstuur en struktuur van skulpe kan baie wissel. Gewoonlik het die skulpoppervlak 'n geriffelde tekstuur, maar in gevalle waar die mantel ook die buiteoppervlak bedek, is dit glansend en glad, byvoorbeeld by die porseleinslakke (superfamilie Cypraeoidea).

'n Duidelike kop en 'n voet kan aan die slakliggaam buite die skulp onderskei word. Die voet word vir voortbeweging, asook vir vashegting aan die substraat gebruik. 'n Aantal slymkliere kom in landslakke se voete voor, en dit skei groot hoeveelhede slym tydens beweging af, waaroor die sagte voet dan met gemak beweeg. Voortbeweging word deur golwende bewegings in die spiervoet self veroorsaak. Varswaterslakke beweeg in baie gevalle met behulp van cilia (trilhare) in hul voete, hoewel daar ook van golwende spierbewegings in die voete gebruik gemaak word. Ander waterslakke kan met behulp van lobvormige parapodia aan die voetrand swem.

  1. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named GastropodaPonder&Lindberg2008
  2. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Cuvier 1795
  3. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Bouchet
  4. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Solem
  5. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named WoRMS

Developed by StudentB